Reverence — Eerbied en Ontsag

“When we lose our reverence for any part of life,we lose our reverence for all of life.”— Albert Schweitzer —
Daar is 'n woord, 'n begrip, wat toenemend meer en meer sy betekenis en waarde verloor het in ons moderne samelewing, en dit is die woord: EERBIED. In Engels is dit, REVERENCE wat ook vertaal kan word met diep respek en heilige verwondering.
Vir die meeste mense hoort woorde soos gewyde agting en ontsag by ou kerktaal uit 'n vorige eeu.
Daar was 'n tyd toe EERBIED gereken is as een van die hoogste menslike waardes: die grond waarin geloof wortel skiet, die fontein waaruit digters en skilders drink, die kompas na ons Ware Noord, en 'n teken van die siel wat 'n deurleefde mens geword het.
Die ou wysgere het geglo dat sonder EERBIED kan daar geen wysheid wees nie. Kunstenaars het daarin iets gesien wat die wêreld beskerm teen koudheid en oppervlakkigheid.
In vandag se tyd word na EERBIED gekyk asof dit 'n antieke meubelstuk is wat ons kan bewonder, maar nie mooi weet wat om daarmee te doen nie. Ons leef in 'n wêreld van selfbevrediging, selfpromosie, en selftevredenheid. Alles is 'n gejaag na materiële sukses en kitsoplossings.
Miskien het ons EERBIED verloor omdat ons geleer het dat alles moet verklaarbaar en bruikbaar wees.
EERBIED is nie net 'n beleefde buiging voor iets belangriks nie, dit is 'n ingesteldheid van jou totale menswees teenoor die Lewe. Dit gebeur wanneer iets in jou bloed en water besef: hier is iets groter as ek; iets om te waardeer wat ek nooit gaan besit nie; iets wat ek nie mag misbruik omdat ek die mag het om dit te gebruik nie.
Miskien moet ons net eers weer terugkom aarde toe en onthou —
Die son het opgekom lank voordat daar 'n spesie was om dit raak te sien. Die see het teen die kus gebreek voordat enige mens daarna gestaan en luister het. Berge het gevorm, riviere het gevloei, bome het gegroei en seisoene het gekom en gegaan sonder ons.
Dalk is dit waar verwondering begin: wanneer ons vir ’n oomblik besef dat die wêreld nie om ons draai nie, en dat ons vlietende bestaan net 'n spoegspatsel is teen die ruit van ewigheid.
EERBIED laat jou voor iets staan sonder om te moet vra: Wat kan ek hiermee doen? Hoe kan ek dit gebruik? Is daar enige iets in vir mý?
Verwondering sê: “Kyk net hoe wonderlik is dit!”
Ontsag sê: “Dit is groter as wat ek ooit kan begryp.”
Eerbied sê: “Ek moet anders hiermee omgaan, want dit is heilig.”
Heilig is die naam wat ons gee vir dit wat te kosbaar is om roekeloos mee om te gaan.
EERBIED begin deur oplettend en bewustelik te leef. Dit vra nie dat ons ons verstand by die deur moet los en nostalgies oor alles raak nie. Inteendeel, dit leer die verstand om eerlik te wees oor sy eie grense.
EERBIED herinner ons dat die werklikheid altyd groter is as my verklaring daarvan, dat daar dieptes van lewe is wat ons nooit sal verstaan nie, en dat alles wat mooi en goed en lief is, hier was lank voor ek hier was en hier sal wees lank nadat ek weg is.
Ek sou begin met EERBIED vir die lewe self! Die blote feit dat jy hier is, is 'n wonderwerk. As jy dink aan die stamboom van jou twee ouers en wat dit gevat het om jou te kry tot waar jy dit kan lees, kan verstaan, en hierop kan reageer. Nog meer wonderlik dat ons leef op die enigste planeet, waarvan ons weet, waar daar 'n spesie is wat hieroor dink en bewus daarvan is hoe nietig ons is.
Daar is EERBIED vir die menslike liggaam. Om te kan asemhaal, en die lewe met al ons sintuie kan ervaar. Hoe ons kan bou, kan genees, en kan opstaan ná 'n val.
Dit bring EERBIED vir elke ander mens. 'n Diep respek vir elkeen se geskiedenis en elke verhouding waarin hulle staan. Daar is 'n heilige ontsag vir elke kind — hul ontvanklikheid en kwesbaarheid, en die eindelose potensiaal wat in elkeen opgesluit lê. Daar is 'n diep waardering vir ons bejaardes — vir hul wysheid en ervaring, vir hul lewensjare van insig en seisoene van verlies.
Dan dink ek aan EERBIED vir die aarde. Hierdie planeet wat vir ons sorg in die oorvloed wat ons elke dag geniet. Miskien meer ontsag vir ons woude en dit nie net te sien as iets om te plunder nie. Te kyk na ons riviere as die slagare van lewe en nie gulsig net vir hul water nie. Te kyk na die grond waarin ons plant en nie as iets om te besit nie.
Ek dink aan EERBIED vir elke geboorte en elke afsterwe. Dit is van die min kere waar ons nog met heilige ontsag voor die Almag van Lewe staan as ons sien hoe 'n kind gebore word, of waar die lewe heiliger voel as ons iemand se hand vashou in hul laaste ure.
Dalk weer EERBIED vind vir die gewonigheid van elke dag. Dink aan alles wat ons SÓ vanselfsprekend aanvaar: die liefde van 'n beminde; die soen van jou kind; die teenwoordigheid van ons geliefdes; om stil te staan as die son opkom en in verwondering vir 'n oomblik opkyk na die volmaan; water uit 'n kraan. Warm- en kouewater en water wat ons kan drink. Dis 'n voorreg wat miljoene mense nie het nie. Om ons verbruikersmentaliteit op sy plek te sit en nie deur die lewe gaan wat nog meer wil hê van alles wat ons nie nodig het nie.
Maar dan is daar ons EERBIED vir God, hoe jy God ook al ervaar en beskryf — of jy dit die Groot Misterie, óf Lewe noem, die Goddelike, óf dit as die Alomteenwoordige Krag van die Skepping beleef — dit is 'n Lewe en Liefde wat in en deur jou vloei en nie VAN jou is nie.
Sit jou dogma en soek na bewyse eenkant, gee jou oortuigings en vooropgestelde idees lig en lug, en kom na God met oop hande en harte.
Vandag vra ek nie meer vir wonderwerke in my lewe nie. Ek vra: “Here, gee vir my die vermoë om met verwondering te leef.”
Soos altyd.
Met liefde.
Terblanche
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“He who can no longer pause to wonder and stand rapt in awe, is as good as dead.”
― Albert Einstein ―
.png)

