Reverence — Eerbied en Ontsag II
Updated: Oct 14

“The nitrogen in our DNA, the calcium in our teeth, the iron in our blood, the carbon in our bones were made in the interiors of collapsing stars. We are made of starstuff.” — Carl Sagan
Ons staan hierdie maand stil by 'n begrip, 'n ingesteldheid, wat baie van ons vergeet of verleer het, naamlik: EERBIED. Eenvoudig gestel sou ons kon sê: eerbied is om raak te sien wat kosbaar is en dit met waardigheid te hanteer. Eerbied maak ons meer oplettend, meer nederig en meer versigtig met die lewe, met mense, met die aarde en met dit wat ons God noem.
Sinonieme vir EERBIED is:
Heilige ontsag — daardie gevoel wanneer jy besef: Hier is iets groter as ek. Iets wat ek nie heeltemal kan verklaar, beheer of in woorde kan vasvang nie. Vir 'n oomblik raak jy stil, omdat jy weet: Ek staan voor iets wat groter is as my begrip daarvan.
Diep respek — dit beteken dat ek iets of iemand met sorg behandel omdat ek die waarde daarvan raaksien. Ek hoef nie alles te verstaan of met jou saam te stem voordat ek jou met respek behandel nie.
En dan is daar verwondering — daardie innerlike ervaring van “WOW!” wanneer skoonheid, liefde, mooi musiek, die natuur, lewe, of wat ons ervaar as God my so aangryp dat gewone woorde en emosies onvoldoende voel.
Eerbied is met ander woorde wat gebeur wanneer ontsag, respek, en verwondering bymekaarkom en ons besef: wat hier voor my is, is heiliger as wat ek gedink het.
In Latyn is daar 'n uitdrukking: “Dum vivimus, vivamus” (terwyl ons leef, laat ons leef) wat hierdie hele gesprek in een beginsel saamvat.
Wanneer ons oor die LEWE begin nadink, gebeur daar iets wat ons tot in ons beendere voel. Ons besef dat die LEWE wat in en deur my vloei nie VAN my is nie.
As ons enigsins met self-awareness leef, voel dit of ons voor een van die grootste misteries staan en miskien is Eerbied vir die Lewe waar ons gesprek moet begin — nie by vrees nie, nie by godsdienstige reëls en voorskrifte nie, en beslis nie by 'n teologiese verduideliking nie, maar by die ontdekking dat ons lewe geweef is in 'n LEWE wat soveel dieper en wonderliker is as wat ons besef.
Ons gebruik die woord LEWE so maklik dat ons amper nie meer hoor wat ons sê nie. Ons sê: “Dis die lewe,” of “Geniet die lewe,” of “My lewe is besig,” asof ons presies verstaan wat hierdie wonder van bestaan werklik is.
Jy het nie besluit om gebore te word nie. Jy het nie bepaal in watter eeu, land of familie jy gebore sou word nie. Jy het nie die eerste sel laat verdeel of jou eerste hartklop begin nie. Jy het nie die natuurwette geskep wat lewe moontlik maak nie — en tog is jy hier. Vir ’n ongelooflike kort oomblik in die geskiedenis van die kosmos is jy hier om te leef, om te voel, om lief te hê en om te weet dat jy bestaan.
“We are like butterflies who flutter for a day and think it is forever.” — Carl Sagan
Ons weet die dag sal kom dat ons nie meer hier is nie, maar leef asof daar altyd 'n môre sal wees. Ons stel uit vir later en wag om jammer te sê of te vergewe. Ons beplan om die lewe te geniet as ons afgetree het of as die kinders uit die huis is. Ons doen moeite om langer te lewe, maar vergeet om vandág te LEEF.
Hoe hartseer dat die meeste van ons dink dat sterflikheid is die einde van betekenis en vergeet dat die feit dat iets eindig, maak dit juis kosbaar.
Dit is veral waar in ons verhoudings: daar sal 'n laaste keer wees dat jy met elke mens vir jy lief is, praat. Daar sal 'n laaste ete, laaste vakansie, laaste verjaarsdag en laaste keer wees dat iemand jou naam sê. Dit klink morbied, maar miskien is sterflikheid 'n raam om die skildery en help ons om raak te sien wat binne die raam is.
Daarom pleit ek: moenie die LEWE vanselfsprekend aanvaar nie. Om met waardering stil te staan as die son opkom vir nog 'n dag en met dankbaarheid sien hoe dit ondergaan om plek te maak vir die nag. Om in verwondering op te kyk na die volmaan, en met nederige ontsag die sterre en planete in die hemelruim te sien.
Moenie die arms van jou beminde, die soen van jou kind, die teenwoordigheid van jou geliefdes, en die opregte omgee van vriende vanselfsprekend aanvaar nie. Koester dit! Omarm dit! Beskerm dit!
Ons gebruik die woord “wonderwerk” wanneer ’n baba gebore word. Ons kyk na daardie klein lyfie en sê: “Wat 'n wonderwerk!” — en dit is! Maar sestig of tagtig jaar later kyk ons na dieselfde mens en vergeet dat die wonderwerk steeds besig is om te ontvou.
Jou hart klop 'n 100 000 keer per dag deur 'n netwerk van bloedvate wat, as jy dit alles agtermekaar kon uitlê, meer as twee keer om die aarde sou kon strek, en in jou brein is biljoene klein neurons op dié oomblik besig om woorde en betekenis te verwerk.
Jy hoef nie eenkeer jou hart te herinner om te moet klop, of jou longe instruksie gee om asem te haal, of jou immuunstelsel 'n TO-DO lys gee nie. Asem soms in die palm van jou hand en sit dan daai hand op jou bors en voel jou hart klop.
Miskien sal ons weer 'n diep respek vir LEWE ervaar as ons anders na ons liggame kyk. Nie meer 'n lyf beoordeel of dit te oud, te vet, te maer, te veel plooie, of meer jonk genoeg is nie — maar die lyf wat jou deur elke dag van jou bestaan gedra het. Dit dra die letsels van wat jy oorleef het. Dit laat jou dans, huil, lag, proe, luister, iemand omhels, en 'n ander se hand vashou.
Dit bring my uiteindelik terug by God. Nie omdat God vir my ’n maklike antwoord is vir alles wat die wetenskap nog nie kan verklaar nie, of omdat ek God nodig het om die gapings in ons kennis te vul nie. Dit bring my by God omdat ek ’n woord nodig het vir die Groot Misterie waarin ek leef, beweeg en bestaan.
Hoe groter dié werklikheid vir my word, hoe minder geïnteresseerd raak ek in ’n klein God wat presies binne my verklarings moet pas. Eerbied herinner my dat God groter is as my teologie, en die LEWE groter as my biologie.
Dit maak kennis nie waardeloos nie, maar nederigheid noodsaaklik. Waar daar nederigheid is, is daar dankbaarheid, en waar daar dankbaarheid is, is daar eerbied.
Eerbied vir die Lewe sê: ek het ’n kort, brose, maar merkwaardige kans gekry om te bestaan, daarom wil ek mý lewe 'n refleksie maak van dié LEWE.
Doen dit, doen dit met liefde.
Soos altyd.
Terblanche
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“Far better it seems to me, in our vulnerability, is to look death in the eye and to be grateful every day for the brief but magnificent opportunity that life provides.” ― Carl Sagan
.png)


