top of page
neo-spektrum-logo

Lente — Van Saad tot Vrug II

Sep 9
4 min read

2026-09-09

“All that is gold does not glitter,not all those who wander are lost;The old that is strong does not wither,deep roots are not reached by the frost.”

— J.R.R. Tolkien, The Lord of the Rings


Dit is September, en ʼn nuwe seisoen. Ons het begin met die besef dat voor enige iets groei, moet daar geplant word.


Elke oomblik van die dag plant ons iets — elke gedagte, elke aksie, elke reaksie, elke keuse, en elke besluit, PLANT iets.


Dit is SÓ belangrik om dit werklik te verstaan, en dit dan doelbewus toe te pas in elke verhouding waarin ons staan — veral in ons verhouding met ons kinders:

Daar is ʼn rede waarom die volgende gesprek ná PLANT nie onmiddellik BLOM is nie. Ons sou dit graag so wou hê. Ons plant vandag, en môre wil ons resultate sien.


Dit is nie hoe die Koninkryk van die Lewe werk nie. Eers plant ons, dan wag ons met geduld, en terwyl ons wag gebeur daar iets wonderbaarliks wat niemand sien nie: die lewe beweeg eers ondertoe voor dit boontoe beweeg. Die eerste beweging van groei is nie na buite nie, maar na binne — meer gevestig, meer geanker, meer verbind.


Daarom is die natuurlike fase na plant, om WORTEL te skiet.


Voordat daar blomme is, is daar wortels. Voordat daar vrugte is, is daar wortels. Voordat daar skaduwee is, is daar wortels. Voordat daar 'n boom is wat die storms kan weerstaan, is daar 'n onsigbare wêreld onder die grond wat maak dat die boom kan bly staan.



Ons leef in ʼn wêreld wat obsessief is oor wat bo die grond gebeur. Ons vier sukses, en bewonder prestasie. Ons sien die groot huis, suksesvolle loopbaan, en die gelukkige gesin, en is dikwels heeltemal onbewus van die wortels:

Ons sien nie waardeur iemand moes werk om daar te kom nie. Ons sien nie die pyn en teleurstelling wat hulle moes verwerk, of die nagte van twyfel en wanhoop nie. Ons sien nie die opofferings wat gemaak is, of hoeveel keer weer geplant moes word nie.


Ons bewonder die vrugte, maar vergeet maklik van die wortels wat dit moontlik gemaak het.


Wortels doen meer as om net ʼn plant vas te hou, dit anker en voed ook die plant, en neem wat nodig is om lewe moontlik te maak.


Daarom is die vraag: Wat voed jou lewe? Waarin is jy gewortel?


Waarheen gaan jy as jy bang en onseker is? Waarheen gaan jy as jy alleen voel en raad soek? Waar kry jy jou gevoel van waarde? Wat dra jou wanneer die lewe nie verloop soos jy gehoop het nie? 


Dink ek aan die Gelykenis van die Saaier wat gaan oor saad wat op die pad val maar die voëls kom en pik dit op. Ander saad val op klipperige grond, dit kom vinnig op maar omdat dit nie genoeg wortels het nie, verdroog dit wanneer die son warm word. Dan is daar saad wat tussen die dorings val wat die saad verstik. Maar dan is daar saad wat in goeie grond val. Dit groei en lewer ʼn groot oes op.


Dit is die tweede saad wat my aandag vang. Aanvanklik lyk dit of die plant groei, maar wat bo die grond gebeur, is vinniger as wat onder die grond gebeur.


Daar is hoogte sonder diepte, en hoe dikwels sien ons dit in ons eie lewe: daar is kennis sonder wysheid, sukses sonder integriteit; godsdiens sonder innerlike vrede; 'n huwelik sonder intimiteit; 'n besige lewe sonder self-dissipline.


En wanneer die storms kom — en glo my, hulle kom — ontdek ons dikwels dat dit nie die grootte van ons takke is wat ons staande hou nie, maar die diepte van ons wortels.


Hier is ʼn ander waarheid: ʼn boom kan nie sy wortels kies nadat hy geplant is nie, maar ons as mens het wel ʼn unieke vermoë — ons kan nuwe wortels groei.


Ons kan nuwe waardes kies, nuwe patrone, nuwe maniere van dink en reageer, nuwe maniere van liefhê, nuwe maniere van glo, nuwe maniere om God te verstaan en ervaar.

Ons kan ons verlede erken sonder om ons toekoms daardeur te laat bepaal. Ons kan sê: “Dis is waar ek vandaan kom — maar dit is nie waarheen ek wil groei nie.”


Net soos wat elke verhouding nodig het dat daar geplant word, het elke verhouding ook wortels nodig. Die wortels van ʼn gesonde verhouding is dinge soos: vertroue, respek, vergiffenis, geduld, aanvaarding, veiligheid, en JA, LIEFDE!


Miskien is dit een van die redes waarom sommige verhoudings so maklik verdamp. Daar was baie blare, baie blomme, baie aangetrokkenheid, maar baie min wortels.


Daarom vra ons nie net: “Hoe kan ons gelukkig wees?” nie maar, “Hoe kan ons dieper groei? Hoe kan ons sterker wortels ontwikkel?”


Die laaste plek waar wortels ʼn absolute noodsaaklikheid is, is in ons spiritualiteit.


Baie mense verstaan ʼn verhouding met God as iets wat jy doen. Jy bid, jy lees Bybel, jy gaan kerk toe, en jy glo sekere dinge. Dalk is spiritualiteit nie iets wat jy doen nie maar iets waarin jy gewortel is. Die vraag is nie net: “Wat glo jy?” nie maar: “Waarin is jou siel geanker?”


Is dit gewortel in vrees of in liefde? Is jou Godsbeeld gebou op straf en beloning, of op die liefdevolle-goedheid van God — wat ons noem: genade?


Jesus het nie mense uitgenooi om meer godsdienstig te raak nie, sy hele lewe het voortdurend gewys na ʼn dieper manier van bestaan. ʼn Lewe gewortel in die Liefde van God.


ʼn Lewe waar jy weet: ek word geken, ek is geliefd, ek is deel van iets groter as myself — en om te weet: ek hoef nie my waarde te bewys of te verdien nie, want God sien my in die beste weergawe van myself.


Diep wortels beteken nie dat daar nooit storms sal wees nie, dit beteken dat die storm nie die einde van my lewe gaan wees nie.


Dit is vir jou en my om te PLANT. En dan — stadig, geduldig, dikwels onsigbaar — ons WORTELS te laat groei.


Doen dit met liefde.

Soos altyd,

 
 
GAAN TERUG
bottom of page