Lente — Van Saad tot Vrug
Updated: 1 day ago

“Don’t judge each day by the harvest you reap but by the seeds that you plant.”
— Robert Louis Stevenson—
Voor enige iets groei, moet daar eers geplant word.
Vir die grootste gedeelte van my lewe was ek byna behep met GROEI. Trouens, dit was die allesoorheersende behoefte. Alles in my lewe het gegaan oor GROEI.
Op Universiteit het ek boeke gelees oor GROEI, en praatjies bygewoon oor GROEI. Ek het gebid vir GROEI — as teoloog, as musikant, as skrywer, as mens. Ná universiteit het ek ure spandeer om my strategie te beplan hoe ek meer kan GROEI.
Soms was ek bekommerd dat dit te stadig gaan, en dat ek nie my doelwitte gaan bereik nie. Ek het my GROEI gemeet aan ander mense se vooruitgang en meer as dikwels gevoel dat ek klaaglik tekortskiet om te GROEI.
Dit was eers rondom my veertigerjare dat ek begin vra het wat ek eintlik van die begin af moes gevra het: Wat plant ek?
Dit klink so vanselfsprekend, maar my obsessie met GROEI het my verblind.
ʼn Tuinier staan nie een oggend op en sê vir homself, “Ek wil 'n mooi tuin hê,” en oornag staan die beddings vol blomme nie. Die boer sê nie, “Ek wil 'n groot oes hê,” en gaan hou dan vakansie nie.
Vandag besef ek dat ek dikwels vir vrugte gevra het sonder om te dink aan die saad. Ek wou bloeisels hê sonder om eers die grond voor te berei. Ek wou resultate hê sonder om by die begin te begin.
Dit is een van die grootste desepsies van ons tyd. Ons word gebombardeer met beelde van sukses, prestasie, en voorspoed. Kyk na sosiale media en al wat ons sien, is die gepoleerde resultaat van ʼn lewe wat perfek lyk. Ons sien iemand se vrugte, maar ons ken nie hul seisoene nie. Ons sien hul blomme, maar nie die jare van plant, water en kompos gee, snoei en wag vir die saad om op te kom nie.
Ons raak gou moedeloos. Ons vergelyk die saadjies van ons eie lewe wat klein en nietig lyk met die tuine van ander mense wat reeds blom. Ons vra: “Waarom groei ek nie soos hulle nie?”
Wanneer ons nie die vrugte sien waarna ons verlang nie, begin ons glo dat ons misluk het.
Hier is die waarheid wat ek op die harde manier moes leer: GROEI begin nie met die blom nie, dit begin met 'n saadjie.
Vandag koop ons alles klaargemaak by die winkels. Ons het al die antwoorde op al ons vrae onder ons duime. Alles gaan oor sigbare vooruitgang, meetbare uitkomste, en tasbare resultate — en ons wil dit NOU hê.
Sonder dat ons dit besef, beïnvloed hierdie ingesteldheid ook ons geestelike en persoonlike groei.
Ons wil geduld hê, maar wil nie die saadjies van geduld plant nie. Ons wil liefgehê word, maar nie die saadjies van liefde plant nie. Ons wil dapperder wees, maar ons wil nie die saadjies van moed plant nie.
Omdat die saadjies so klein is, besef ons nie eens dat ons besig is om te plant nie. Ons is onbewus van die feit dat een nietige saadjie dra die potensiaal om duisende, selfs miljoene ander saadjies voort te bring.
Die heel belangrikste dinge om te leer, is dat ons elke dag besig om iets te plant: elke gesprek… selfs die dinge wat jy vir jouself sê, plant iets; elke keuse plant iets; elke verhouding waarin jy belê, plant iets; elke maaltyd wat jy eet, plant iets; elke gebed wat jy bid, plant iets; en wanneer jy sê, “Dis nie so maklik nie”, plant jy iets.
Die vraag is dus nie ÓF jy plant nie, die vraag is: WÁT plant jy?
Ons kan nie altyd bepaal watter storms ons tuin gaan verniel nie. Ons kan nie elke droogte voorkom nie, maar ons kan aandag gee aan wat ons plant, want wat ons vandag plant, vorm die tuin waarin ons môre gaan leef.
Plant jy saadjies van liefde of saadjies van onbetrokkenheid? ʼn Saadjie van moed of saadjies van vrees en wanhoop? Plant jy saadjies van vergiffenis of saadjies van bitterheid en verwyte?
Saadjies wat sal blom as die Lente kom of saadjies van onkruid wat als wat mooi is, gaan verswelg? Plant jy saadjies van oorvloed of saadjies van te veel van jou te min?
Die antwoord op hierdie vrae sal bepaal hoe jou tuin lyk, of wat jy gaan oes.
Voordat die nuwe spruitjie deur die grond breek, het baie reeds onder die oppervlak gebeur. Voor die stingel blomme dra, skiet dit eers wortel.
Miskien is daar iets wat besig is om in jou lewe te gebeur waarvan niemand anders weet nie: 'n nuwe insig; ‘n nuwe manier van na die lewe te kyk; ‘n groter vertroue in die proses van lewe wat besig is om te ontvou; ‘n groter waardering vir wie jy is en dankbaarheid vir wat jy het; ‘n hernude sin van betekenis en doel; meer deernis; meer moed; ‘n dieper en deurleefde verhouding met God.
Al wat moet gebeur, is die bereidwilligheid om te sterf in ons ekkigheid sodat die wysheid van Johannes 12:24 in ons kan oopbreek:
“As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit maar net 'n enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug.”
Dit is September, die begin van ʼn nuwe seisoen. Wat gaan jy hierdie Lente plant?
Plant iets waarvoor die mens wat jy oor ’n jaar gaan wees, jou sal bedank.
Soos altyd,
.png)



