Lente — Van Saad tot Vrug III

“Criticism, like rain, should be gentle enough to nourish a man’s growth without destroying his roots.”
— Frank A. Clark —
Ons tema vir die maand is: Van Saad na Vrugte. Ons het begin by PLANT en onsself herinner dat elke oomblik van die dag plant ons iets. Laas week het ons gesels oor WORTELS wat vra: “Wat voed my? Waarin is ek gewortel? Waaraan is ek verbind?” want dit beïnvloed wat DEUR my vloei … en uiteindelik UIT my lewe groei.
Die belangrikste beginsel van PLANT en WORTELS is die insig dat groei eers na binne gaan voor die na buite gaan. Wat IN ons gekweek word — liefde, vreugde, vrede, respek en kindness — vind uiteindelik sy weg DEUR ons na ander.
Vandag vra ons: Wat het dit wat in my begin groei het, nou van my nodig om te floreer? Dit gaan oor VERSORG — om met liefde aandag te gee aan dit wat geplant is en wortels skiet.
Dink aan ʼn swanger vrou. Daar is ʼn lewe wat in haar groei. Daar is iets wat IN haar gebeur. Sy neem aktief deel aan die proses — sy eet, sy rus, sy gaan vir ondersoeke, sy versorg haar liggaam, en maak keuses ter wille van die LEWE wat sy in haar dra — sy kan die lewe versorg, maar sy kan dit nie beheer nie.
Sy kan nie die selle laat verdeel of ʼn hart laat klop nie. Sy kan nie besluit wanneer die vingertjies begin vorm, en die brein in al sy kompleksiteit moet ontwikkel nie.
Die mooiste beeld van ʼn swanger vrou is dat sy met ʼn NAELSTRING verbind is aan haar kind. Die Hebreeuse woord vir ʼn koord is dieselfde woord as vir hoop.
Ons gebruik die woord HOOP dikwels as ʼn vorm van onsekerheid as ons sê: “Ek hoop dit reën.”, “Ek hoop alles werk uit.” Maar tiqvah in die Joodse geloof, is om met geduld te wag met 'n doel.
Ons sê ʼn swanger vrou ‘VERWAG’ — om te hoop (qavah in Hebreeus) is om met entoesiasme en ʼn positiewe afwagting uit te sien.
Miskien is elkeen van ons op ʼn manier “verwagtend” — daar is reeds iets in ons lewe wat besig is om te groei, en nou ons aandag en versorging nodig het.
Dan is daar die beeld van ʼn tuinier. Voor hy enige iets doen, moet hy KYK. Is die grond droog? Kry die plant genoeg lig? Kry dit dalk te veel water? Is daar onkruid? Versorging begin dus nie met ʼn aksie nie maar met aandag.
Dit is een van ons grootste probleme vandag — ons is so besig mét ons lewe, en jaag deur al ons móét-doene, maar gee nie aandag áán ons lewe nie.
Ons kyk na ons kalender. Ons kyk na ons foon. Ons kyk na ons horlosie. Ons kyk wat volgende gedoen moet word, maar wanneer laas het jy stil genoeg geword om na jouself te kyk? Miskien sal jy hierdie vrae kan beantwoord: Wat maak jou moeg? Wat oorweldig jou? Wat maak jou bang? Waar het jy HOOP verloor?
Maar wat as ek vra: Watter verhouding het water nodig? Watter droom is besig om op te droog? Watter gedeelte van jou menswees het lanklaas lig gekry? Waar het jy weer moed nodig? — want sien: versorging is liefde wat aandag kry!
Wanneer iets vir jou kosbaar is, let jy daarop. Dit geld vir jou huwelik, jou kind, jou vriendskappe, jou liggaam, jou geestesgesondheid, en jou verhouding met God.
Ons verloor soms dinge, nie omdat ons opgehou het om daarvoor lief te wees nie, maar omdat ons opgehou het om aandag daaraan te gee.
ʼn Verhouding sterf nie op een Dinsdagoggend tussen 1 en 2pm nie, maar as gevolg van ʼn honderd-en-een Dinsdae waar niemand regtig meer luister nie. Niemand vra meer: “Hoe gaan dit regtig met jou?” Niemand sê meer: “Dankie” of “Asseblief” nie.
Versorging is klein dingetjies wat lank genoeg, met liefde, gedoen word.
Dit sluit in om te weet wanneer om onkruid uit te haal —
Ons plant liefde, maar vrees kom saam dit op. Ons plant hoop, maar sinisme maak ook sy verskyning. Ons plant die beste intensie om goed beter en anders te doen, maar ou gewoontes steek weer kop uit.
Soms moet mens die snoeiskêr gaan haal —
Om te snoei aan 'n lewe wat só besig geraak het dat ons nie meer tyd het vir wat regtig belangrik is nie. Snoei daai behoefte om altyd reg te wil wees. Snoei daai skuldgevoel wat jy al 20 jaar saam jou dra. Snoei daai vrese wat liefde versmoor.
Miskien lyk groei soms soos: minder geraas, minder haas, minder voorgee, minder vergelyk met ander, minder bang wees, minder beheer.
Ons het vergeet dat almal van ons eens in die donker buik van ons moeder gegroei het tot die dag gekom het wat ons elke jaar vier waar ons die LIG gesien, en ons eerste asemteug gegee het. Die feit dat jy hier is, en hierdie woorde kan lees, is ʼn wonderwerk.
In ʼn wêreld wat behep is met SIEN (sukses, prestasie, status), is dit nodig om weer te fokus om te versorg wat ons nie sien nie.
Begin by meer LIEFDE! Koester meer teerheid, meer kindness in jou lewe. Kweek meer selfvertroue, selfrespek, selfwaarde, en selfdissipline. Kultiveer jou gedagtes, want dit is nét so belangrik soos kos vir jou lyf.
Wat jy dan sal SIEN, is hoe dit wat jý versorg, jou versorg.
As jy liefde versorg, versorg liefde jou — dit maak ons sagter sonder om ons swakker te maak.
As jy deernis versorg, versorg deernis jou — dit bevry ons van die hardheid waarmee ons die wêreld en ander soms beoordeel.
As jy dankbaarheid versorg, versorg dankbaarheid jou — dit leer ons om raak te sien hoeveel ons reeds het, eerder as om voortdurend te leef vanuit wat ons dink ons nie het nie.
As jy stiltetyd versorg, versorg die stilte jou — dit gee ons ‘n plek waar die geraas van die wêreld nie voortdurend bepaal wat jy dink, voel, en hoe om te reageer nie.
Dan gebeur ʼn wonderwerk: wat niemand kan sien nie, dra jou deur dit wat almal kan sien!
Soos altyd.
Met liefde.
.png)


