Die Koringkorrel moet Sterf V
27 Oktober 2021
“Just for todayI will allow my movementto be shaped by my heart.I will not explain or defend,I will not apologizeor seek to be understood.Just for todayI will walk softly, speak little,offer what I can.Just for today,I will let being what I am,be enough.”
― Oriah, The Mountain Dreamer —
Vir ʼn maand lank het ons gesels oor Jesus se woorde, “As ʼn koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ʼn groot oes in.” (Johannes 12:24)
Ons het gepraat oor —
Transformation,
Recognition,
Appreciation,
Devotion
... en Sondag sluit ons af metEmancipation.
[T.R.A.D.E.] — om iets te verruil, vervang, of te verander.
Die volgende koringkorrels is geïdentifiseer:
Sterf in die illusies van skeiding en verwydering sodat ons nuut gebore kan word in die Goddelike balans en harmonie
Sterf in die dorings van agterdog, bygeloof, en oordeel sodat die blomme van liefde en vrede kan groei in ons tuin
Sterf in die drogbeelde dat ons sleg en skuldig is en verdien om gestraf te word sodat die lig van vergiffenis en versoening ons verlig
Sterf in die dryfsand om alles met die kop te wil verklaar en verduidelik sodat ons die Stem van die Siel sal ken, erken, en herken
Sterf in die ego-denke wat pendel tussen skuldgevoel en vrees sodat ons siel-denke op die voete van engele kan dans
Sterf in die krampagtige vasklou aan gister en obsessies oor môre sodat vandag sinvol kan wees
Sterf in die boeie van onvergenoegdheid sodat dit dankbaarheid en waardering kan ontsluit
Spirituele transformasie is ʼn proses, ʼn geloofsreis, en nie ʼn bestemming of iets wat jy bereik nie.
Ons stap hierdie pad as vlees en bloed mense — ons word groot en ons leer; ons kry seer en ons heel; ons het keuses en maak soms dom besluite; ons sê ‘hallo’ en dan weer ‘koebaai’; ons verloor en ons vind; ons treur en ons lag; ons het nagte van teleurstellings en dae van triomf; ons verdwaal en kom weer tuis.
Wat ons bring by die laaste koringkorrel: — EMANSIPASIE.
Die begrip ‘emansipasie’ beteken tog: laat gaan om alles en almal te wil beheer; die vryheid om te wees wie en wat en hoe jy is solank dit nie ten koste van ander is nie; om vry te wees in ons intellektuele, emosionele, en spirituele begrip.
Dit is een ding om behoudend, versigtig, of konserwatief te wees maar wanneer dit verval in fundamentalisme — ʼn fanatiese wit en swart mentaliteit — dan raak dit intellektueel, emosioneel, en spiritueel onhigiënies.
Niks nuuts kan gebore word uit so monomania nie. Die lewe is gewoon te vlietend, plooibaar, soepel, en veranderend om vasgevang te word in ʼn loopgraaf, en dan almal daarin te wil geut.
Sterf in ons beheer oor ander sodat ons geëmansipeer kan word van mag
Sterf in ons brose ego wat so gou aanstoot neem sodat ons verantwoordelikheid vat vir ons pligte en voorregte
Sterf in ons persepsies en projeksies sodat ek die beste weergawe van myself kan word en ander daartoe lei
Jesus was ʼn leermeester van EMANSIPASIE!
Dink aan Johannes Evangelies se Sewe Tekens van Jesus — ... water word wyn waar die meeste vromes probeer eerder water as wyn; ʼn Romeinse Offisier se dogtertjie word genees omdat God se liefde almal insluit; die verlamde by die bad van Betesda om te sê dat wie kreupel is, sal dans; hy voed 5000 met ʼn seuntjie se lunchbox om te sê dat in God is ons nooit honger nie; hy loop op water om te sê dat in gees en siel is ons nie gebonde aan vrese vir verdrink en vergaan nie; hy genees die man wat blind is sodat ons geloof ons kan laat sien; en hy red Lazarus uit die graf om te sê dat Lewe triomfeer oor dood.
Dink aan sy emansipasie van ʼn Samaritaanse vrou wat hy vra vir water; sy emansipasie van ʼn vrou wat deur die dominees en prokureurs gestenig wou word; sy emansipasie van Maria Magdala wat sy voete salf en die kerkraad (dissipels) wat ʼn probleem daarmee het; sy emansipasie van kinders wat deur grootmense stilgemaak word; en selfs aan die kruis die arme rower emansipeer van sy verknogtheid aan besittings.
Kom ons bring Sondag ons koringkorrels om dit te T.R.A.D.E. vir ʼn oes wat die Vrugte van die Gees sal dra as ons die brief aan die gemeente in Laodisea lees:
“Julle sê: ‘Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,’ en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. Daarom raai ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle jul kan aantrek en jul skaamte, jul naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan jul oë te smeer, sodat julle kan sien.” (Openbaring 3:17-18)
Mag die res van hierdie week in sy mooiste en beste vir jou ontvou.
Met liefde en seënwense
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“Science means nothing,Unless we use it to lift the society.Philosophy means nothing,Unless it empowers humanity.Religion means nothing,Unless it advocates for inclusion.Technology means nothing,Unless it aids in collective ascension.Tastes are plenty in our world,So are the paths that humans take.But if those paths hold no humanity,The fabric of civilization will soon break.Placing on humanity our prime attention,Together we’ll attain true emancipation.”
― Abhijit Naskar, ’Sonnet of Paths’ ―
.png)




